Sport en Buitemuurse

Sport en Buitemuurse aktiwiteite

SPORT

Rugby

Ons het drie rugbyspanne, naamlik 0/15, O/18B en O/18A. Daar word gereeld wedstryde gespeel teen verskeie skole in die ELSEN-liga.

Ons reël ook wedstryde teen hoofstroomskole. Daar word elke jaar deelgeneem aan ‘n 7’s toernooi. Vroeg in die tweede kwartaal word daar proewe gespeel waaruit spelers gekies word om die Boland ELSEN-span te verteenwoordig by die Cravenweek.

Daar is oor die algemeen tussen ses en agt spelers van die Weskus Skool in die Bolandspan. By die Cravenweek kry spelers die kans om gekies te word vir die SA ELSEN-span wat ‘n groot eer is. Ons het by verskeie kere al spelers in die SA-span gehad. Ons neem ook jaarliks aan ‘n uitnodigingstoernooi deel waar ons gereeld goed vaar. 

SPORT

Krieket

Afrigting in krieket vind plaas by die skool. Die basiese beginsels word aangeleer en wedstryde word gereeld gespeel teen omliggende skole en ook teen die ander vaardigheidsskole.

Die skool beskik oor 4 krieketnette, waar boulafrigting geskied. Tussen die twee rugbyvelde is ‘n geskikte blad waar wedstryde op ‘n krieketmat gespeel kan word.

Ons spelers kry ook die geleentheid om die Boland LSEN krieketspan te haal wat jaarliks tydens September aan die Nasionale Krieketweek deelneem.

Weskusskool was gelukkig om die laaste 6 jaar spelers te kon lewer wat die Bolandspan gehaal het. 

sports

sokker

Weskus Skool bied die afgelope klompie jare sokker aan en het elke jaar genoeg belangstelling om ‘n span te kan saamstel. Aanvanklik het ons teen plaaslike spanne gespeel en later teen van ons susterskole in Kaapstad. Die afgelope 8 jaar speel ons in die Boland LSEN-skole liga en is ons elke jaar verteenwoordig in die Bolandspan. Die afgelope paar jaar is twee of meer spelers in die Wes-Kaap ELSEN-skole sokkerspan opgeneem. Dit is dus duidelik dat ons sokkerspanne oor die algemeen baie goed vaar.

Gedurende die 2014-seisoen was daar ook genoeg belangstelling om ‘n dogtersspan op die been te bring. Toekomsgerig vertrou ons op ‘n volwaardige dogterssokkerspan.

sport

Atletiek

‘n Groot aantal leerders neem elke jaar deel aan atletiek. Aan die begin van elke skooljaar word ‘n kleuresportbyeenkoms gehou.  Atlete word hierna gekies om aan die interskole (bestaande uit 7 vaardigheidskole) deel te neem.


Die atlete kry ook kans om aan die Boland Atletiekbyeenkoms en die Weskaapbyeenkoms deel te neem, waar hulle dan gekies word om aan die S.A. byeenkoms deel te neem.

sport

Netbal

Weskus Skool is trots om te sê dat ons ‘n uitstekende en gesonde netbalkorps het wat speelsters en afrigters insluit. Om uit ± 100 dogters 4 - 5 spanne te kan hê is reeds ‘n prestasie!

Ons roem ons ook daarop dat ons baie sterk teenstanders is in ons liga, asook by ons jaarlikse netbaltoernooi. Ons is regtig bevoorreg om te kan sê dat ons gereeld 3 - 5 speelsters per jaar het wat gekies word om die Wes-Kaap Elsen-netbalspan by die S.A. skoletoernooi te verteenwoordig.

sport

swem

Die Weskus Skool het swemfasiliteite. Swem word tans intern tydens skoolure in liggaamsoefening periodes geakkommodeer in die vorm van swemgalas tussen die onderskeie jaargroepe.

Buitemuurse aktiwiteite

VCSV

(Verenigde Christelike Studente Vereniging)

Doelwitte:

  • Om jongmense te help om geestelik te groei.
  • Om ‘n goeie selfbeeld te ontwikkel.
  • Om goeie menseverhoudinge te bou.
  •  Om die goeie eienskappe in hulself te kan identifiseer.
  • Om met selfvertroue deel te neem aan groepbesprekings.
  • Om leerders op die gebedspad te begelei.
  • Om leerders se sosiale vaardighede te ontwikkel.

Ons kom twee maal per week bymekaar en doen die volgende aktiwiteite:

  • Bybelbesprekings
  • Besprekings oor onderwerpe wat leerders raak.
  • Speletjies
  • Liturgiese danse

Die VCSV reël ook jeugkampe wat leerders met geestelike groei help.